RIGTING IS BELANGRIKER AS JOU SPOED”, SÊ DOODGEWONE TIENER

Hildegard Havenga se visie is om ander tieners op te hef en te bemagtig waar sy kan. Sy doen dit deur haar eie ervarings te deel, want as ‘n doodgewone tiener van Pretoria, sukkel sy ook gereeld met haar eie uitdagings en struikelblokke. Uit haar eie pen, deel Hildegard haar gevoelens oor ‘n tiener se toekomsplanne:

“Die Junie eksamen is alweer amper hier. En vir baie tieners voel dit soos net nóg ’n herinnering dat die tyd aanstap – en dat jy alreeds moet weet waarheen jy oppad is. Dis asof die wêreld ’n swaar hand op jou skouer sit en vra: “So, wat wil jy doen met die res van jou lewe?” Terwyl jy eintlik net probeer konsentreer op daai Wiskundetoets van môre. En dit is waar baie van ons vasval: die gevoel dat jy nie net nóú moet presteer nie, maar ook reeds ’n volwasse plan moet hê vir ’n lewe wat jy nog nie eens geleef het nie.

Ek is 16. En ek weet nie altyd nie presies wat ek eendag wil doen nie (of wat ek vanaand wil eet nie). Ek kry oomblikke van helderheid wanneer ek so doodseker is – en ander tye weer wanneer ek met iemand gesels, voel ek van voor af deurmekaar. Ek voel soms soos iemand wat vrae gevra word oor ’n boek wat nog nie eers geskryf is nie.“

Die druk van nou én later:

“Aan die een kant skree die wêreld aan tieners: “Wees net jouself en vind jou identiteit!” Maar aan die ander kant: “Kies nou al jou loopbaan. Jou vakke. Jou universiteit. Jou beurs. En doen dit sommer reeds in Graad 8.” Dis nie net onregverdig nie – dis onrealisties. Jy’s nou eers besig om jouself te leer ken. Sommige oggende voel ek selfversekerd, vol idees en gereed vir enigiets. Ander dae voel ek soos daai een verlore kous wat altyd agterbly in die wasmandjie.

Daar is hierdie vreemde kompetisie onder tieners – en dit speel nie net af in die klaskamer nie. Jy moet nie net slim wees nie. Jy moet ook mooi versorg wees. En sportief. En snaaks. En kunssinnig. Jy moet aan buitemuurse aktiwiteite deelneem, jou CV bou met kursusse, en terselfdertyd jou sosiale media bestuur soos ’n mini-influencer. Dis asof jy in ’n konstante oudisie is – vir wie jy is, wat jy die wêreld kan bied, en of jy goed genoeg is.

Maar dis nie al nie. Jy moet dit alles laat lyk asof dit moeiteloos kom. Jy moet koel wees – sonder om té hard te probeer. Jy moet uniek wees, maar nie té anders nie. Jy moet uitstaan, maar nie aandag soek nie. Jy moet altyd “aan” wees: entoesiasties, ingelig, bewus van die nuutste tendense, maar ook ernstig oor jou toekoms. Jy moet jou liggaam fiks hou, jou vel laat gloei, jou Instagram stories op datum hê – en dan nog elke dag begin met ’n glimlag, asof jy nie onder enige druk is nie. Jy moet jouself wees, maar net as dáái self goed gepoleer, produktief en perfek bemarkbaar vir die toekoms is. Hoe uitputtend.

Sosiale media maak dit natuurlik net moeiliker. Jy sien net die hoogtepunte van ander se lewens: iemand wat op 14 al ’n bergfietsklere-reeks begin het, iemand anders wat ’n beurs vir Harvard losslaan, nog een wat naweke internasionale gigs by die Superbowl kry, en dan dié met die YouTube-kanaal wat miljoene kykers lok én nog steeds A’s haal. En dan begin jy wonder: Wat makeer my? Wat is my “iets”? Moes ek dit nie al lankal uitgepluis hê nie?

Die druk om reeds jou passie te hê, ’n plan te hê, ’n persoonlikheid te hê wat mense aantrek – dit is baie om te dra vir iemand wat nog net probeer oorleef tot Vrydag. Dis ’n misleidende storie wat ons vir mekaar vertel: dat jy jonk én suksesvol moet wees. Die lewe werk nie so nie. Die meeste mense ontdek eers later wat hul roeping is – en dis nie omdat hulle agter is nie, dis juis omdat hulle lééf en werk daaraan. Groei vat tyd. En tyd is iets wat jy móét hê, veral as jy jouself nog leer ken.

Wat ek begin besef het, is dat wanneer jy twyfel oor jou toekoms, dit nie noodwendig ‘n slegte ding is nie. Dit beteken juis jy gee om. Dit wys jy dink. Twyfel is die begin van selfkennis. Party van die mees inspirerende grootmense wat ek ken, het glad nie geweet wat hulle wou doen op 16 nie. Sommige het drasties van rigting verander op 30. En weer op 40.

Dis tyd dat ons eerliker begin praat oor wat werklik normaal is. Normaal is om onseker te wees. Normaal is om iets met oorgawe te probeer – en dan van plan te verander. Normaal is om soms verlore te voel tussen al die verwagtinge en geraas. Dis nie lui nie. Dis nie dom nie. Dis nie agter nie. Dis groei. Dis menswees. Dis jou eie pad – op jou eie tyd.“

Hoe begin jy dan dink aan jou toekoms?

“Ek het agtergekom dit help om eenvoudige, eerlike vrae te vra – nie die tipe vrae wat oor titels of geld of prestasie gaan nie, maar dié wat jou help dink oor betekenis. Soos byvoorbeeld:

· Watter tipe probleme in die wêreld sal ek wil help oplos?

· Met watter aktiwiteite raak ek só besig dat ek heeltemal van tyd vergeet?

· Watter soort stories of mense maak iets binne my wakker?

· Wat doen ek sommer uit eie wil – sonder dat iemand my vra of betaal?

· Wat sal ek aanhou doen, al kry ek nie applous daarvoor nie?

Die antwoorde wys jou nie noodwendig ’n beroep nie. Maar dit wys jou ’n rigting. En op hierdie stadium voel dit vir my asof ‘n rigting belangriker is as ‘n bestemming.

Ek het eenkeer vir iemand gesê ek wil “iets met mense” doen. Dit het eers vaag geklink – tot ek besef het hoe wyd daardie moontlikheid is. “Mense“ kan beteken medies, onderwys, joernalistiek, kuns, bemarking, sielkunde, of selfs iets wat nog nie bestaan nie.

Ons moet ook begin anders praat oor sogenaamde “sagte” of kreatiewe vakke. Drama, musiek, kuns, dans – dis nie bykosse of ekstras nie. Dis noodsaaklik. Dis nie net stokperdjies nie – dis tale van emosie, maniere van dink, en maniere van wees. Tog is daar steeds ‘n stigma dat kreatiewe rigtings “pretvakke“ is – nie vir ‘n regte loopbaan nie. Minder slim. Minder waardevol. Dis asof jy jouself elke keer moet regverdig as jy iets buite die “hoofstroom” kies – veral as dit nie direk tot ’n “gewone” beroep lei nie. Maar die wêreld het nie net ingenieurs en dokters en programmeerders nodig nie. Die wêreld het ook mense nodig wat ons leer kyk, voel, luister en verbeel. Mense wat stories vertel, klank gee aan stiltes, en lig bring waar daar donker is. Jy’t nie minder van ‘n toekoms omdat jy ’n kreatiewe pad kies nie – jy het net ’n ander een. En dis net so vol moontlikhede.

Verder is een van die grootste leuens wat ons glo, dat alles moet vinnig gebeur. Jy moet jonk wees én suksesvol. Jy moet al voor 21 ’n CV hê wat klink soos ‘n Netflix-dokumentêr oor ’n wonderkind. Maar hier’s iets belangriks: enige iets van waarde neem tyd. Selfkennis vat tyd. Groei vat tyd. En om ’n vol lewe te bou, is nie ’n naelloop nie – dis ’n staptog. En op my staptog probeer ek myself daagliks aan die volgende herinner:

1. Jou rigting is belangriker as jou spoed. Al beweeg jy stadig, beweeg jy ten minste – en dis genoeg in tye wanneer jy nog nie al die antwoorde het nie. In ’n wêreld wat so fokus op vinnige suksesse, is dit ’n groter oorwinning om te besef dat jy jou eie pas kan bepaal.

2. Jy hoef nie in graad 10 jou finale besluit te neem nie. Jy mag van plan verander. Jy mag van rigting draai. Jy mag maar Rekeningkunde inruil vir iets anders. Jy mag sê: “Ek het gedink dis wat ek wil hê. Maar dis nie meer nie.” Dis nie onseker nie – dis dapper. Dit neem moed om jou drome te herdefinieer en jou roete aan te pas. Dis jóú staptog – jy mag omdraai, afdraai of stilstaan om weer te oriënteer.

3. Jy is nie ’n produk nie – jy is ’n proses. Jy is nie iets wat afgemerk en klaargemaak moet word nie. Mense groei. Jy mag ontwikkel. Jy moet ontwikkel. Wat saak maak, is dat jy aanhou stap.

4. Foute is nie eindes nie. Dis net draaie in jou pad. Jy leer soms juis wie jy is, deur uit te vind wat jy nie is nie. Jy sal jouself dalk kry op plekke waar jy nie verwag het nie, maar elke draai is ’n deel van jou mooi storie.

5. Jy is meer as net jou punte of prestasies. Jou menswees, jou perspektief, jou vrae – is wat regtig tel. Dis dit wat jou uniek maak. Jy mag dalk nie elke toets slaag nie, maar dit beteken nie jy het misluk nie. Jy mag dalk nie weet wat die toekoms vir jou inhou nie, maar wat jy vandag leer, is wat jou voete sterk maak vir môre se klim.

Jy hoef nie nou al alles te weet nie:

“Ek wens daar is meer grootmense wat dit hardop vir ons sê. Maar dalk kan ons dit nou vir mekaar sê: Dat jy nie jou hele lewe se legkaart klaar moet bou teen 18 nie. Jy mag eers nog stukke bymekaar maak, kyk wat pas en wat nie. Dat jy mag eksperimenteer. Mag huil. Mag lag. Mag groei.

Ek wens ook jy het mense rondom jou wat nie net vir jou sê wat om te word nie, maar jou vra wie jy is. Mentors wat luister en raad gee sonder om voor te skryf. En vriende wat nie meeding met mekaar nie, maar mekaar vier en ondersteun.

Tieners leef in ’n tyd waar alles vinnig beweeg en onduidelik voel. Die wêreld druk ons vol idees van wat sukses is, terwyl ons self nog besig is om uit te vind wie ons is. Ons leef in ’n era waar likes en shares dikwels die maatstaf is, en dis maklik om jouself in al die verwagtinge te verloor. Maar jy hoef nie alles nou al alles in plek te hê nie. Jy kan steeds jou eie pad vind, en jy hoef nie ’n perfek-gepoleerde weergawe van jouself te wees nie. Jy is nie agter as jy onseker is nie. En jy’s beslis nie alleen nie.

My hoop vir elke tiener wat nou eksamen skryf met die idee dat jou punte ”maak of breek“ is, of net worstel met die vraag “waarheen nou?” – is eenvoudig: Wees goed vir jouself. Doen jou bes. En onthou: jy is nie op aarde net om te presteer nie. Jy is hier om te voel, om te leer, om te groei, om te floreer. En dit vat tyd. Alles hoef nie nou al sin te maak nie. Jy het meer tyd as wat jy dink, en dinge het altyd ’n manier om reg uit te werk.“

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/hildegardhavenga

Instagram: @hildegard.havenga

TikTok: @hildegard.havenga